ROOFTOP EXHIBITION

(AFRIKAANS PRESS RELEASE) - BEELD
17/9/2009

Artikel deur Johan Myburg

Gordon Froud het hom male sonder tal al bewys as ’n kunstenaar met ’n oog vir die ongewone te midde van die mees alledaagse. Sy gebruik van onder meer plastiekklerehangers in sy guitige beeldhouwerke is wyd bekend.

Maar dit is nie net as kunstenaar dat Froud ongewone moontlikhede verken nie – hy doen dit ook as kurator.

Met sy Rooftop-uitstalling bring hy die werk van 22 kunstenaars byeen – op die dak van ’n onderneming in Pretoria wat dalk meer bekend is as ’n modehuis.

In dié gebou, vlak by die Brooklyn-sirkel, se daktuin pryk ’n versameling werke wat ook van die pad af sigbaar is – Usha Seejarim se bloedrooi Rapunzel leun oor die dakreling, Wilma Cruise se Claybody 4 en 5 staar gebukkend voor hulle uit en Rossouw van der Walt se figuur stoei onverpoos met sy kraaie.

Die werke is deurgaans nogal groot – waarskynlik om sigbaar te kan wees van die straatvlak af.

Maar dit is dalk juis Froud se replika van ’n Nissan-bakkie – van plastiekklerehangers – bo-op die trapskag wat die aandag trek.
 
Dit is asof Froud met dié werk al die draadkarre van ’n mens se jeug saamtrek en die opperste speelding vervaardig.

Die speelse element word een van die bindingselemente in dié versameling werke. Van Guy du Toit se Flying Hare wat met ’n sierlike boog deur die lug trek tot Paul Boulitreau se swaai (Balancing Transgression) met twee pare bene en Francois Visser se Limbo – ’n duiker/vlieënier wat hoog op ’n brose stellasie sit. Dis juis die onwaarskynlike moontlikhede wat dié werke vergestalt, al drie in brons, wat opval.

Ian Redelinghuys, van wie ’n mens lank laas werk gesien het, se Angel Eyes, Guardian Angel is vol beweging en jy vermoed ’n kinematiese element aan dié werk, maar dit is juis die onbeweeglikheid wat die trefkrag verhoog. Dieselfde geld Richard Forbes se staaltolbos (Sarah’s World) met die beeld van ’n uitgelate kind daarin.

In Rooftop word nie net die werk van besonder vindingryke kunstenaars uitgestal nie, maar dis inderdaad ’n viering van speelse vermoëns.

Tot 26 September.

St. Lorient is by Fehrsenstraat 492, Brooklyn. Navrae: 012 460 0284.

 

Home | Bridal Wear | Evening Wear | Art Gallery | News & Events | Miss SA | Contact Us | Sitemap